Friday, March 12, 2010

Die lewe gaan steeds aan vir Petrus Moolman!

Ek het in Juie 2008 by FEBA Radio afgetree. Dit was tyd om te gaan.

Die organisasie het so betekenisvol gegroei in die tien jaar waarin ek die voorreg gehad het om hulle te lei, dat ek dit goed gedink het om die Beheerraad te versoek dat ek uittree en`n jonger, kundiger leier aangestel word wat die momentum van dié groei verder en nuut kan bestuur.

My 10 jaar by FEBA Radio was een van `n klompie baie hoë hoogtepunte in my bediening.

  • Dit het my die wêreldoor geneem na lande en kollegas wat onder die druk van vervolging en lewensgevaar die Here se Koninkryk uitbou.
  • Dit het my die omvang van die kerk van Christus laat ervaar
  • Dit het my wyd en groot leer dink oor die Koninkryk.
  • Dit het my geleer om te werklik te bid
  • Dit het my geleer om God blindelings te vertrou - om uit te vind Hy is getrou aan sy Woord en sy beloftes daarin.
  • ... dit het my in lande waar die enigste passie Jesus vir die miljoene onbereiktes is, laat wonder oor die kerk in Suid-Afrika, wat baie min begrip het van wat ware kerk in sulke omstandighede is, verstaan ...

Ek loof God vir die nuwe (waarskynlik die laaste!) bedieningsgeleentheid in die NG KERK LIGKRUIS, met `n opwindende opdrag aan die senior volwassenes, die OIKOS projek, die getuienisbediening, die voorreg van prediking en die wonderlike geleenthede om my pastorale vaardighede weer te slyp! SOLI DEO GLORIA

Kyk www.ngligkruis.blogspot.com

en www.OIKOS-projek.blogspot.com

Saturday, March 22, 2008

Bereik die wêreld vir Jesus

Die afgelope 10 jaar reeds is ek bevoorreg om die Evangelie van Hoop by die uithoeke van die aarde te kry. F.E.B.A. Radio SA is een van `n baie groot familie van FAR EAST BROADCASTING lede wat in hulle eie lande (waar moontlik - want dis om veiligheidsredes nie altyd moontlik nie!) programme vervaardig en deur middel van ons netwerk met tientalle uitsaaipunte na mense versend wat nog nooit gehoor het nie. In meer as 160 tale!

Die resultaat is verstommend. Ons oudste suster, FEBC (reeds meer as 60 jaar in bedryf) ontvang meer as 700 000 response en FEBA Radio (meer as 40 jaar in bedryf) ontvang tussen 300 000 en 500 duisend reaksies jaarliks. ELKEEN word individueel beantwoord en begelei.

In Suid-Afrika was ons taak aanvanklik (10 jaar gelede) net steunwerwing. Tans het ons so uitgebrei dat ons deur middel van ons span in die veld `n groot finansiële verantwoordleikheid dra vir die werk in Franssprekende Afrika en die YAO in Malawi, mOsambiek en Tanzanië. Ons het etlike sendelinge wat in die veld en sommige vanit ons kantoor, die werk ko-ordineer.

Ekself is besig met `n projek om klein, inheemse - maar sukkelende FM stasies op die platteland te help deur middel van gratis programverskaffing oor mense se nood - altyd vanit `n Christelike perspektief. Ons is tans besig met `n loodsprojek in die Vrystaat.

Besoek gerus ons webtuiste www.febaradio.co.za vir meer inliginting en raak betrokke!

Tuesday, February 5, 2008

Wat is die mens?

Vanoggend verneem dat Lafras Steyn oorlede is. Onlangs eers gehoor van sy terminale toestand. Groot mens gewees. Ek wonder hoeveel lewens het hy gered deur sy navorsing en toewyding aan sy professie. Maar vir hom het die slim ouens self nie `n antwoord gehad nie.

Wat is die mens en wat leer ek uit elke geval van dood?

Dat God jou `n lewe gee. `n Baie kort lewe. Om jou die waarheid te sê in my eie lewe is ek nou daar wat elke dag vir my te kort, elke nag te lank en elke oomblik kosbaarder word. Die Bybel gee jou maar sewe dekades gemiddeld voordat moeite en verdriet intree. Dan is dit verby. Oud word is regtig nie vir sissies nie. God gee `n lewe om te leef en te geniet, om lewe te gee en God in die lewens van mense te laat leef. Uiteindelik gaan dit oor God. Nie oor jou lewe of die dood nie.

As dit rondom my al dikwels donker geword het, het ek troos gevind in Hom wat lewe kom gee het en my lewe daarom vir Homself opeis ...

SLYKPUT


Ek soek tastend
helsbewus
na vasgrypplek
vir vuil-glad vingerpunte
sien hoe mosspriete
as laaste hoop
verbyflits
berekend onderweg
na poel van modderslyk
waarin ek sal wegsink
wegsink
wegsink

O God
is daar nie
'n pynlose
noodrem
waarmee U
die monster in
kokon-baarmoeder
van helse ondergang
kan aborteer nie?

Ek kry bewend
heilsbewus
met vuil-glad vingerpunte
greep op brood en wyn
enigste hoop
kruis-aanbod
van gekheid vry, onderweg
na die hemelstad
waarheen ek onbegrypend
opreis
oorwinnend
verheerlik


Petrus Moolman

5 Februarie 2008

Friday, June 29, 2007

Thursday, June 28, 2007

Waarom MOOLMANSBERG?

  • Ek is nie juis `n baie sentimentele mens nie - behalwe oor `n paar dinge. Die een is die plaas Moolmansberg - in die Ficksburg distrik
  • Dis waar my pa groot geword het en ek talle vakansies van my lewe deurgebring het
  • Dis waar ek die liefde van `n groot uitgebreide familie leer ken het
  • Dis waar ou Klakie - wat ook my pa grootgemaak het, met my kom simpatiseer het toe ons ons baie jong pa tussen die Bloekomlaning deurgedra het na die familie begraafplaas - waar `n hele paar van die Moolman voorgeslag begrawe lê.
  • Dis waar Ouma Kitty haar onuitwisbare invloedsmerke op my jong lewe afgedruk het
  • Dis waar jy met God kan praat en Hy met jou ... waar behalwe Hy ook Visierskerf luister
  • ... waar die huis van sandklip platgestoot is en die stemme uit die ou tyd stilgemaak is ...