Tuesday, February 5, 2008

Wat is die mens?

Vanoggend verneem dat Lafras Steyn oorlede is. Onlangs eers gehoor van sy terminale toestand. Groot mens gewees. Ek wonder hoeveel lewens het hy gered deur sy navorsing en toewyding aan sy professie. Maar vir hom het die slim ouens self nie `n antwoord gehad nie.

Wat is die mens en wat leer ek uit elke geval van dood?

Dat God jou `n lewe gee. `n Baie kort lewe. Om jou die waarheid te sĂȘ in my eie lewe is ek nou daar wat elke dag vir my te kort, elke nag te lank en elke oomblik kosbaarder word. Die Bybel gee jou maar sewe dekades gemiddeld voordat moeite en verdriet intree. Dan is dit verby. Oud word is regtig nie vir sissies nie. God gee `n lewe om te leef en te geniet, om lewe te gee en God in die lewens van mense te laat leef. Uiteindelik gaan dit oor God. Nie oor jou lewe of die dood nie.

As dit rondom my al dikwels donker geword het, het ek troos gevind in Hom wat lewe kom gee het en my lewe daarom vir Homself opeis ...

SLYKPUT


Ek soek tastend
helsbewus
na vasgrypplek
vir vuil-glad vingerpunte
sien hoe mosspriete
as laaste hoop
verbyflits
berekend onderweg
na poel van modderslyk
waarin ek sal wegsink
wegsink
wegsink

O God
is daar nie
'n pynlose
noodrem
waarmee U
die monster in
kokon-baarmoeder
van helse ondergang
kan aborteer nie?

Ek kry bewend
heilsbewus
met vuil-glad vingerpunte
greep op brood en wyn
enigste hoop
kruis-aanbod
van gekheid vry, onderweg
na die hemelstad
waarheen ek onbegrypend
opreis
oorwinnend
verheerlik


Petrus Moolman

5 Februarie 2008

No comments: